Tuesday, 22 January 2008

Ek leef nog!!!

Hallo julle almal

Ja, ek is nog hier iewers op moeder aarde, maar vergeet soms self dat ek deel van die mensdom is. Ek doen sowaar my naam as dromer gestand. My probleem is egter, ek raak so verdiep in almal se blokke dat ek skoon vergeet ek het ook een. Almal se blogs lyk vir my so "cool" en myne so (hoe sal ek nou sê) eenvoudig?? Ek is nie heeltemal ongeletterd wat rekenaars betref nie, maar het net nie die tyd om te speel en te kyk wat ek alles kan doen nie. Maar wie weet, miskien is 2008 MY jaar van oulik raak.

Die vakansie was baie lekker, maar ek dink familie kan ook net SO lank bymekaar kuier. Dit was vir my so effens lank, maar het nie die trane gekeer met die vertrek slag nie. Die eerste 2ure terug op die langpad was doodstil (glo dit self nie) in ons motor, behalwe vir so snuif-snik van ma se kant af oor die 2 susters wat ek moes agterlaat. Julle sien, dit was die eerste keer in 2 jaar wat ek my susters weer gesien het en dit mag dalk nog langer wees voor dit weer gebeur. Behalwe vir lekker kuier, slaap lees en swem het ons nie veel gedoen nie. So ongelukkig kan ek julle nie "entertain" met die ongelooflikste vakansie storie nie.

Terug by die huis en 'n week later kry my jongste pampoentjies. Hy het die eerste drie dae van skool gemis en ons almal heeltemal laat vergeet van enige rus wat ons gehad het. Gister was sy eerste skooldag en gisteraand het ons twee tot half 12 geswoeg deur die werk wat hy moes inhaal. In ons dae was die eerste week meer speel as iets anders, maar glo my daai dae is lankal vergete.

Wat "loadshedding" betref, dink ek Eskom vergeet van ons, want in die laaste 2weke was ons krag nog net eenkeer af vir 2ure en dit terwyl ek by die werk was. Dit mag vir julle ander moedeloses hemels klink, maar soms wens ek vir meer "loadshedding." Laat ek verduidelik: Soos sommige van julle weet is ons 'n gesin van 5 (pa/ma/suster en broer (tieners) en pampoentjie boetie), elkeen het sy eie blêrkas in sy/haar kamer en saam met dit kom die musiek smaak. Van pop tot rock tot country. Moenie die 4 TV's in die huis vergeet nie. Glo my kinders kan ook "multi task" Die TV en Blêrkas baklei oor wie die hardste is in elke kamer.
Ek kan nog aangaan oor die vuis gevegte tussen die 2 seuns. Die gekerm van ma oor die huis wat soos 'n orkaan lyk en oor pa se gerieflikke stilswye oor alles, maar ek dink julle het die prentjie.

So asseblief Eskom moenie van ons vergeet nie, net so partykeer, en as dit ons beurt is, bring sommer die aanwysings saam oor hoe om "loadshedding" op kinders toe te pas. Ek bedoel ek wil soms net hulle "loads" so vir 'n uur of wat "shed" sodat ek 'n doodse stilte en donkerte kan ervaar. Ek belowe ek sal nie kla as ek in DOODSE stilte my boek in kerslig moet lees nie.

Mooi dag verder
Annie

N.S. Carlien, Willem en Christiaan, al wil mamma soms julle "loads" bietjie "shed" brand my hart nog soos vuur van al die liefde vir julle

2 comments:

Anonymous said...

Annie, dankie vir die draai by my, jong ons bly in Gauteng. Sien graag uit om nog oor jou te lees!!

Annie said...

Zee
Dankie, ek gaan beslis meer kom kuier. Jou blokkie lees te lekker.
Annie