Tuesday, 09 October 2007

Elke Pot het sy Deksel

So sit ek mos die naweek en dink aan my en my ander helfte (deksel). Dit is altyd vir my so interessant om te hoor hoe 2 mense bymekaar uitgekom het. Ek glo natuurlik aan die gesegde dat elke pot 'n deksel het, maak nie saak hoe krom of skeef of perfek nie.

Wel hier volg my storie:My broer is in Julie 1989 getroud in Napier. So pak ons gesin die langpad van Empangeni na Napier. Die Vrydagaand word daar toe so ken mekaar braai gehou en daar ontmoet ek toe my skoonsuster se broer se boesem pêl. Daar was absoluut geen aantrekkingskrag of skoenlappers op my maag nie, volgens my net nog een van die gaste.

Die troue was 'n oggend troue en net voor ons teruggaan na die plek waar ons sou oorslaap vra my broer se swaer of ek nie die aand saam met 'n klomp van hulle wil gaan dans nie. Ek stem toe in en weg is ons. Ek onthou daai aand as die keer wat ek en manlief die beste ooit saam gedans het. Die res van die groep is vroeg huistoe, maar die 2 van ons het dit uitgekap tot die oggend ure. Daarna het ons nog koffie gaan drink by ons gesin se oornagplek. Hy is die oggend half vyf daar weg en 5 uur het ons die langpad terug Natal toe aangepak.

Ons het vir mekaar begin skryf, maar intussen het elkeen met sy lewe aangegaan. Dit was eintlik te vêr om enigsins ernstig te raak. Die November van dieselfde jaar besluit manlief toe om te kom kuier. Ek het myself opgestress, want ek kon skaars onthou hoe hy gelyk het. My broer het my gewaarsku en gesê geen man sal vir 'n naweek van die Kaap tot in Natal ry nie, maar hy het dit vêr mis gehad. Donderdagmiddag 5 uur toe klop hy aan my deur. Toe ek die deur oopmaak val alle "stress" net so van my skouers af. Ons het net onmiddelik begin gesels. Ek dink die briefskrywery het nogal gehelp.

Die volgende aand was ons werk se eindjaarfunksie, toe ek klaar aangetrek was en met die trap op stap na my kamer, keer hy my en vra: SAL JY MET MY TROU!!!! Ek het nie 'n oomblik gehuiwer nie en onmiddelik ja gesê. My Ma wou iets oorkom en het my gesmeek om eers af te trek Kaap toe sodat ons mekaar beter kon leer ken. Praat het nie gehelp met ons twee nie.

Ek het wel afgetrek Kaap toe in Maart 1990, maar ons twee het op 25 Augustus 1990 trou aan mekaar beloof en vandag 17 jaar later, sal ek nie twee keer dink om weer met hom te trou nie.

Ons het maar ook ons probleme en dinge soos almal, maar ek kan met 'n oop hart sê EK IS DOLGELUKKIG GETROUD MET MY SIELSGENOOT!!!!

Hoop ek kan 'n paar van jul stories ook hoor.

Hê 'n ongelooflike week verder

Annie

Wednesday, 03 October 2007

Spog of nie

Vandag is weer een van my droom dae. En ek wonder.....................en droom.........en wonder: Is ek en my man goeie ouers en leer ons, die kinders die regte waardes en normes van die lewe????

Ek het drie van hulle soos julle reeds weet Carlien (16) Willem (15) en Christiaan (11) . Elkeen het sy eie persoonlikheid en talente. Ek en Pa het 'n BAIE oop verhouding met al drie. Ons klomp kan lekker stry en baklei oor sekere aspekte van die lewe. Ek is die preker in die gesin, elke geleentheid wat ek kry, preek ek oor dwelms, seks, dronkbestuur ens. My kinders wil partykeer mal raak, maar dit sit my geensins onder nie. Pa is die meer reguit een en loop nie draaie nie, hy noem 'n ding op sy naam en basta. Soos julle kan dink, kan ons familie gesprekke nogal in 'n sirkus ontaard, maar de laaste een mis sulke gesels sessie vir niks.

Ek voel bevoorreg dat ons nog so met veral ons tieners kan praat, want as ek om my kyk sien ek 'n baie hartseer prentjie in baie gesinne, waar ma of pa nie eers weet waar hul tiener seun of dogter op 'n Vrydgaand is nie. Myne weet, ek neem hulle na waar ookal en gaan haal hulle weer. Vir hulle is die ergste die inkomtye, want lyk my nie ander kinders ken van so 'n reël nie. Ek gee sondagskool vir graad 7's (std 5), toe ek een oggend vra wat hul inkomtye is, was ek verstom. Die meeste het nie so iets nie en die fynste kleinste dingetjie, wat nie 13 nie maar 8 lyk sê so ewe: My pa sê solank ek net voor 2 uur in die huis is, is hy tevrede. Nou vra ek julle met trane in my oë, wat maak 'n 13jarige meisiekind daai tyd (of na 10uur) op straat of in 'n sentrum of waar ookal?

Ag ek weet hierdie is 'n onderwerp wat ek en julle seker ook 'n boek oor kan skryf, maar gister toe ek Dellie se blog lees wat sy aan haar Seuna opgedra het, toe werk my brein weer oortyd. Vra het hier kom vasskop: Is my kind reg vir die wêreld daarbuite? Het ek hom/haar die regte dinge geleer? Het ek hulle nie bietjies te veel vasgehou en probeer beskerm nie? Moet ek nie dalk met die kleintjie probeer, deur meer vryheid te gee nie? Luister hulle as Ma so preek?
Kry hulle nie dalk te veel nie?

Ek het toe maar besluit, dat die beste sou wees as elke kind gebore word met 'n boek onder die arm, wat vir ma en pa presies sê hoe die kind grootgemaak moet word. Iets soos 'n "users guide." Dink julle nie dit sou dinge soveel makliker gemaak het nie? Dink nou net as Boeta vra hoe laat hy by die huis moet wees en jy kan gou vinnig in die boek kyk wat sê: Beste inkom tyd vir Willem op 15 jarige ouderdom: 11 uur. Dan sou hulle nie kon stry of jou probeer ompraat nie, want dis wit op swart en met sy of haar naam op.

Ag, ek weet ek praat nou sommer nonsens, want wat sal ek tog doen sonder die redenasies en opinies van my 3 terroriste.

Carlien, Willem en Christiaan: Pappa en Mamma is ongelooflik trots op julle. Ons liefde is nimmereindigend en julle weet waarheen julle kan kom met enige vrae en onsekerheid. Ons het toe nie boeke gekry met julle geboorte nie, maar tot dusver glo en vertrou ons, is ons op die regte pad.

Mag julle almal 'n wonderlike, sonnige en amazing week hê, en onthou die Secret!

Liefde
Annie

Monday, 01 October 2007

Kersfees en geskenke

Hallo almal

Jammer ek was/is so skaars, maar dit gaan maar rof by die werk en huis. Die tyd van die jaar raak my voete skaars grond. Dit laat my weer dink aan hoe vinnig die jare verby vlieg. Dit lyk vir my hoe ouer ek raak hoe vinniger gaan die jare verby, of is dit my verbeelding?

Aangesien dit die tyd van die jaar is, sal ek graag wil hoor by julle hoe hou julle Kersfees en wat is almal se slim idees oor geskenke gee. Ek is gladnie 'n "shopper" nie, so Kersfees is altyd vir my 'n nagmerrie. Ons familie se reëling is gewoonlik soos volg: Almal koop net vir mekaar se kinders en nie die grootmense nie, behalwe natuurlik die Oumas en Oupas. Dit werk vir ons. Jy koop ook slegs vir die kinders wat Kerfees by julle is. Ons is redelik verpsrei oor die land en sien mekaar nie elke Kersfees nie.

Hierdie jaar is egter anders, ons hou so half familie reunie en almal (ek, 2 susters en broer) met hul gesinne gaan Louis Trichardt toe vir Kersfees en Nuwe Jaar. Help my asb. met idees, die kinders wissel van 6 tot 19 en ek het nie 'n idee wat om te koop nie. Daar is 12 van hulle.

Ek hoop regtig om meer te kom "chat", maar verskoon asb. as ek skaars is, weet julle sal verstaan.

Mooi bly en mag die week vir julle gevul word met sonskyn en vreugde

Annie