Tuesday, 09 October 2007

Elke Pot het sy Deksel

So sit ek mos die naweek en dink aan my en my ander helfte (deksel). Dit is altyd vir my so interessant om te hoor hoe 2 mense bymekaar uitgekom het. Ek glo natuurlik aan die gesegde dat elke pot 'n deksel het, maak nie saak hoe krom of skeef of perfek nie.

Wel hier volg my storie:My broer is in Julie 1989 getroud in Napier. So pak ons gesin die langpad van Empangeni na Napier. Die Vrydagaand word daar toe so ken mekaar braai gehou en daar ontmoet ek toe my skoonsuster se broer se boesem pêl. Daar was absoluut geen aantrekkingskrag of skoenlappers op my maag nie, volgens my net nog een van die gaste.

Die troue was 'n oggend troue en net voor ons teruggaan na die plek waar ons sou oorslaap vra my broer se swaer of ek nie die aand saam met 'n klomp van hulle wil gaan dans nie. Ek stem toe in en weg is ons. Ek onthou daai aand as die keer wat ek en manlief die beste ooit saam gedans het. Die res van die groep is vroeg huistoe, maar die 2 van ons het dit uitgekap tot die oggend ure. Daarna het ons nog koffie gaan drink by ons gesin se oornagplek. Hy is die oggend half vyf daar weg en 5 uur het ons die langpad terug Natal toe aangepak.

Ons het vir mekaar begin skryf, maar intussen het elkeen met sy lewe aangegaan. Dit was eintlik te vêr om enigsins ernstig te raak. Die November van dieselfde jaar besluit manlief toe om te kom kuier. Ek het myself opgestress, want ek kon skaars onthou hoe hy gelyk het. My broer het my gewaarsku en gesê geen man sal vir 'n naweek van die Kaap tot in Natal ry nie, maar hy het dit vêr mis gehad. Donderdagmiddag 5 uur toe klop hy aan my deur. Toe ek die deur oopmaak val alle "stress" net so van my skouers af. Ons het net onmiddelik begin gesels. Ek dink die briefskrywery het nogal gehelp.

Die volgende aand was ons werk se eindjaarfunksie, toe ek klaar aangetrek was en met die trap op stap na my kamer, keer hy my en vra: SAL JY MET MY TROU!!!! Ek het nie 'n oomblik gehuiwer nie en onmiddelik ja gesê. My Ma wou iets oorkom en het my gesmeek om eers af te trek Kaap toe sodat ons mekaar beter kon leer ken. Praat het nie gehelp met ons twee nie.

Ek het wel afgetrek Kaap toe in Maart 1990, maar ons twee het op 25 Augustus 1990 trou aan mekaar beloof en vandag 17 jaar later, sal ek nie twee keer dink om weer met hom te trou nie.

Ons het maar ook ons probleme en dinge soos almal, maar ek kan met 'n oop hart sê EK IS DOLGELUKKIG GETROUD MET MY SIELSGENOOT!!!!

Hoop ek kan 'n paar van jul stories ook hoor.

Hê 'n ongelooflike week verder

Annie

5 comments:

Dellie said...

Hi Annie,

Jip, ek het ook my deksel gekry! Hoe lucky is ons nie!

Ek het 'n post opgesit oor ons ontmoeting, dis 'n lang storie en ek wil nie jou blog hi-jack nie. Gaan kyk daar by my onder Augustus - Liefde is...

Anonymous said...

Ek het my deksel ook gekry!
Na 'n paar stormagtige verhoudings en snaakse ompaaie in my lewe, het ek hom ontmoet. My destiny!

Unknown said...

Wou net vir jou sê dat jy niks hoef skaam te wees nie, jou blog is lekka om te lees! My deksel het op die stadium 'n probleem, want dan is hy my deksel en dan nie. Gelukkig is ek baie geduldig. Welkom en geniet jou blogging!

Anonymous said...

Annie, waar het jy heen verdwyn?

Anonymous said...

Ag, hoe romanties en wat 'n goeie idee. Ek dink ek wil ook nie blog oor hoe ek my liefie / deksel ontmoet het. Lekker gelees. Dankie.